> > > 8 < < <

Die res van die aand is heerlik. Ek ontmoet 'n groot verskeidenheid van mense van oral. Ek kry ook 'n beter oorsig oor Dylan se mense en sy omgewing. Ek verstaan nou ook beter van sy werksposisie en wat sy rol op die plaas is.

Ek en Albert kom ook goed oor die weg en kan oor enige ding gesels. Hy's daai tipe persoon wat min gepla is oor hoe 'n mens lyk, maar eerder hoe 'n mens optree. Hy is glad nie gepla oor wat mense van hom dink nie en bly konstant neutraal teenoor enige iemand wat hy teëkom. Hy kan ook enige dag met die Meneer Persoonlikheid toekenning wegstap. Mens lag jouself in 'n papie in vir hom en sy sêgoed.

Daniël is nou weer stiller, maar hiper intelligent. Sy redenasies gaan 'n mens se verstand te bowe. Soos die aand verloop ontdooi hy ook meer en ons kry ook 'n gesprek of drie in.

Lyla aan die ander kant sit met haar arms gevou oor haar bors en 'n frons is al heel aand op haar gesig geplak. Sy praat skaars 'n woord en as sy 'n geluid maak dan is dit een of ander opmerking wat sy onder haar asem mompel. Ek wonder wat is die kole op haar vuur.

Dylan gesels hier saam met ons en dan vir oomblikke verdwyn hy na 'n ander groep mense vir geselsies, dan later is hy weer terug, voordat hy weer verdwyn.

Ek verkies dit om in die jonger mense se geselskap te bly. Die ouer mense hier lyk vreeslik intimiderend. Al lyk van hulle of hulle dierbaar kan wees.

Na ete kom daar 'n ouerige tannie na ons tafel toe aangeloop. Haar hare is in 'n netjiese bolla saamgevat en sy het 'n ouerige, maar stylvolle rokkie aan.

"Dogter, ek kon nie help om jou raak te sien nie. Toe ek myself weer kon kry toe staan ek voor jou. Gee jy om as ek sit?" vra sy vir my.

"Natuurlik nie, Mevrou."

"Watse gemevrou is dit die?" vra sy weer voordat sy na Dylan en die res van die tafel toe draai. "Mag ek?"

Dylan beduie na die oop stoel langs my. "Tannie is meer as welkom."

"Dankie, Dylantjie. Ek moet sê ek was verbaas om te sien jy het 'n metgesel gebring, wat nog te sê dat dit sulke pragtige dingetjie is nie."

Ek bloos. "Ek het darem smaak, Tannie Trya."

"Beslis. Nou waar is jou maniere, stel my voor aan die dingetjie."

"'Skies, die is Marlie. Marlie die is Tannie Trya. Sy is die plaasbestuurder se vrou. Hulle woon net om die draai van my af en sy bederf my heeltemal te veel. "

"Ag, hy oordryf. Ek moet so nou en dan seker maak die kind word ordentelik gevoed. As mansmense so alleen bly en gedurig werk dan eet hulle nie soos wat hulle moet nie. Sy energie moet iewers vandaan kom."

"Ek's nie so erg nie. Ek eet ordentelik en ek maak lekker kos," protesteer hy dadelik.

"En dan praat ons nie van die hardkoppigheid nie."

"Ek's nie hardkoppig nie."

"Alle mans is hardkopping," lewer ek ook my kommentaar vir die eerste keer. Dylan kyk my uitdagend aan.

"Jy leer ook nooit om nie alle mans in dieselfde boot te skep nie."

"Ek kan as ek reg is."

"Ja, toe nou julle twee, voordat ek net-nou bloed moet opvee. So wat doen jy vir 'n lewe, kind?"

"Ek's nou eers in matriek, Tannie."

"Mens sou nooit sê nie. Wat's jou planne vir na skool?"

"Ek gaan volgende jaar Kommunikasie bestuur studeer. Of wel dis die plan vir nou, ek wag om te hoor van die keuring."

"Oh gits, maar dis 'n opwindende ervaring, is dit nie?" Sy gee my nie kans om te antwoord nie, "O ek onthou nog die tyd toe ek ook moes aansoek doen. My pa het hard daarteen geskop, want in die tyd toe ek so oud soos jy was, behoort 'n vrou mos nie te gewerk het nie, tensy dit met kos of kinders te doen gehad het nie. Ek het in elk geval gaan studeer. My redenasie was dat ek steeds met kinders gaan werk. Dit was my roeping. Een-en-veetig jaar. Dis hoe lank ek skool gehou het vir die klein gediertes. Ek's nie 'n dag daaroor spyt nie. My man en kinders ook nie. Ai, die goeie ou dae." Tannie Trya raak verdiep in haar gedagtes. "Maar nou ja. Waar gaan jy dan studeer? Hier in Pretoria?"

"Nee, Tannie, ek gaan Potchefstroom toe."

"Potchefstroom? Genade, wat gaan dan van julle verhouding word?" Die tannie kyk van my na Dylan met teer in haar oë. Die uitdrukking op Dylan gesig het ook verander. Die lig is uit sy blikke.

"Oh nee," keer ek vinnig. "Ons is nie in 'n verhouding nie."

Haar oë rek. "Jy spot nou mos met my." Dylan draai weg van ons af en speel met sy hande. Hoekom sê hy niks nie?

"Nee, ons is nie in 'n verhouding nie." herhaal ek myself met 'n frons die keer op my gesig.

"Oh gits, verskoon my. Ek dog julle is saam. Dit lyk van die oog af of julle is. Sjoe, dat mens net aannamens so staan en maak. Tog kan julle dit maar oorweeg, julle lyk of julle dit kan maak werk, maar dis dalk maar goed so. Nou met jou wat Noord-Wes toe gaan en dinge."

Ek weet nie wat om vir die vrou terug te sê nie. As sy net weet van die storms wat hier binne-in my aangaan. As hý net weet wat hier binne-in my aangaan...

Tannie Trya begin dadelik met die volgende onderwerp en ek probeer my bes om so veel as moontlik aan die gesprek deel te neem, sodat niemand iets by my sal opmerk nie.

Dylan sê nie veel verder nie. Hy hou nou sy afstand van my af en knoop 'n geselskap met Lyla aan. Daar is 'n borrel wat in my opkook, maar ek druk dit weg.

"Ek's net-nou terug," sê hy voordat hy later opstaan en loop.

"Wat gaan nou aan met die kind?" Ek kyk hom agterna, nie seker wat om van sy gedrag te maak nie. "Nou ja, waar was ons nou weer?"

-

"Marlie, is jy reg om te gaan?"

"Ag nee, Dylan. Ons gesels nou eers lekker man," antwoord Albert en dit laat my glimlag.

"Julle gesels nog die heel aand al te lekker. Kom Marlie." Net daar verdwyn my glimlag. Hy spoeg vuur, besef ek. Die frons van vroeër sit steeds tussen sy oë, as dit nie nou dieper sit nie.

Min lus vir 'n bakleiery, staan ek op. Albert staan ook op en trek my nader in 'n onhelsing. "Dit was 'n voorreg om jou te ontmoet, Marlie. Ons moet weer een of ander tyd gesels, dit sal lekker wees."

"Ja, dit sal." Ek vat 'n servet van die tafel af op en begin my nommer daarop neerskryf.

"Marlie, wat doen jy?" Ek doof Dylan se stem agter my uit.

Ek prop die servet in Albert hande. "Bel my as jy geselskap soek."

Dit was sonder enige intensie gedoen, voordat iemand afleidings maak. Hy is goeie geselskap en mens kan nooit te veel vriende hê nie.

Sonder om te groet trek Dylan my by die gebou uit. Sy gedrag is eienaardig. Dis nie die Dylan wat ek al die jare ken nie. Nie die Dylan waarop ek verlief is nie...

Wag, wat? Ek verlief op Dylan? My magtig, Marlie!

By sy bakkie maak hy die deur vir my oop en druk my haastig in die bakkie in. Die frons op sy voorkop word by elke sekonde net dieper en dieper. Hy skuif langs my in en ek wip van die skrik toe hy die deur hard toe klap. Hy skakel die motor aan en jaag by die oprit af. Hy trap petrol al hoe harder hoe verder ons ry.

Dis nou genoeg! Ek sit my hand op syne, maar hy skud dit dadelik af. "Dylan? Wat gaan aan met jou?"

"Niks nie."

"Noem jy dié niks nie? Jy lyk soos 'n volkaan wat nou enige oomblik gaan uitbars."

"Miskien omdat ek so voel, Marlie!" Hy draai vererg die volume van die radio op. Ek draai dit dan dadelik weer af.

"Wat ontstel jou so ewe skielik?"

"Potch? Van alle plekke moet jy Potchefstroom toe gaan?"

"Is dit waaroor dit gaan?"

"Daar is soveel instansies en universiteite hier in Pretoria of selfs Johannesburg, maar Potch? Regtig Marlie." Sy stem sny deur my. Ek vererg my net op daardie plek.

"Wow, okay. Ek kan gaan studeer waar ek wil, Dylan. Potch is die enigste universiteit wat presies het wat ek wil doen. Buitendien is dit nie so ver nie."

"Nie so ver nie! Dis ver as ek-" Hy stop in die middel van sy sin en bly verder stil.

Dis dit. Ek vererg my finaal. "Jy wat? Die het niks met jou te waai nie, Dylan. Hierdie is my toekoms en as ek 'n sukses daarvan wil maak gaan ek die besluite neem. Saam daardie besluite kom opofferings."

Hy dink en vryf na 'n ruk oor sy gesig. "Jy's reg. Dit het absoluut niks met my te doen nie."

Net toe ry hy by die hek in. Hy parkeer, maar skakel nie die bakkie af nie. Hy draai dan na my toe. "Dankie dat jy vanaand saamgekom het. Ek waardeer dit en skuld jou. Lekker slaap." Sy gesig wys geen emosie nie. Hy leun oor my en maak die deur vir my oop.

Ek skud my kop. "Jy weet, los dit. Weet net dat ek nie hier verkeerd is nie. Lekker slaap." Woedend klim ek uit en sonder om terug te kyk loop ek na die voordeur van die huis toe.

My hande bewe om die sleutel in die gleuf te kry. Frustreerd met myself en die situasie waarin ek myself op die oomblik bevind help ook nie veel nie.

"Gee hier." Die sleutels word uit my hand gevat en Dylan draai dit vinnig oop.

Ek loop verby hom in, maar sy hand om my pols hou my terug. "Marlie, wag."

Ek draai om, die seer word in my oë weerspieël. Hy soek na iets diepers daar in, maar daar waar hy delf is daar nie iets meer as niks nie. "Ek's jammer. Jy is reg. Ek was nou verkeerd. Ek het geen rede om in te meng nie. Jy is ook reg, dit is nie my besluit nie. Ek was net geskok dat jy gaan weg gaan. Ek het net aangeneem dat jy hier naby gaan studeer."

"Maar hoekom? Hoekom is dit iets wat jou so ontstel?"

"Marlie, ons het nou eers begin opvang en nou verloor ek jou alklaar weer."

"Hoekom sal jy my verloor? Ek gaan nie vir ewig weg nie en ek sal tien teen een naweke terugkom huis toe. Ek immigreer nie."

"Jy's reg. 'n Mens kan nie iets verloor wat jy nooit gehad het nie." Hy draai om en loop vir die soveelste keer vandag weg van my af. Net die keer kom hy nie weer terug nie. Hy ry weg.

Ek staan daar waar hy my gelos het. Wat op aarde gaan aan met hom?

Ek maak die deur agter my toe en draf met hakke en al op na my kamer toe. Ek maak die deur agter my toe en leun daarteen. Ek sak af tot op die grond en trek aan my hare. Ek's lus om te gil, maar sal dit nie waag met die res van die huis wat al aan die slaap is nie.

Toe ek my asem uiteindelik terug het staan ek op. Ek trek my klere uit en glip my slaapklere aan. Ek borsel my tande en klim in my bed.

My gedagtes kom nie tot rus nie. Dit speel die toneel van vanaand oor en oor in my kop af. Van die oomblik wat ons daar aangekom het tot oomblikke gelede waar hy sy rug op my gedraai het en die nag hom ingesluk het.

Ek wens ek kon nou net my foon optel en vir Jessica bel. Sy het gewoonlik altyd die regte antwoorde op alles. Sy ken altyd die manier om alles maklik en eenvoudig te laat lyk. Sy weet altyd.

En nou.

Nou lê ek net alleen op my bed. Daar's niemand om te bel nie. Niemand wat na my kan luister of sal verstaan nie.

My gedagtes hol met my weg. Ek rol om en om en om. Ek maak vrede met die feit dat ek nie 'n goeie nagrus vanaand gaan kry nie.

Hierdie gaan 'n lang week wees...

Bạn đang đọc truyện trên: AzTruyen.Top